Nama-Khoi Municipality / Munisipaliteit

‘Slaggate-projek’ skop af in Harmony Estate

August 2, 2022

Die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit se ‘Slaggatherstel- en opleidingsprojek’ het vandag in Harmony Estate in Bergsig afgeskop met ‘n opwindende vennootskap tussen plaaslike regering en ‘n private belegger.

Die private belegger het vyf werknemers in diens geneem wat met EPWP-werknemers in diens van die Nama Khoi-munisipaliteit sal werk.

Hierdie werknemers wat die indiens-opleiding ontvang is van Bergsig, Nababeep en Springbok. Die opleiding word deur die afgetrede padboukundige, Louis Thiart gefasiliteer.

Sowat 72 ton teer vir slaggatherstelwerk is met die private bydrae van R400 000 gekoop.

Die Burgemeester, dr. Gustav Bock het gesê hy is opgewonde oor hierdie onderneming en stem saam dat dit die begin is van vrugbare pogings tussen die munisipaliteit en private beleggers.

“Ons gemeenskappe het ons toewyding nodig om die standaarde van dienslewering te verbeter, daarom is ons vandag hier,” het dr. Bock gesê.

Die Speaker, Raadslid Rodney Kritzinger, het gesê hy is bly dat die projek in Harmony Estate begin het.

“Oor die jare was daar nie voldoende begroting vir slaggatherstelwerk nie. Die bietjie begroting wat gebruik was, kon nooit ander dorpe bereik nie. Daarom is ons verheug dat dienlewering in hierdie woongebied kan voortgaan,” het Kritzinger gesê.

Raadslid Kritzing het gesê hierdie bydrae het dit ook moontlik gemaak om ’n kompakteerder- en snyer-masjienerie aan te koop. Build-It Springbok en HS Vervoer het ook verlaagde pryse aangebied vir die aankoop en vervoer van die produkte.

Verder het Raadslid Kritzinger sy werkesel, Soutie (bakkie), beskikbaar gestel om te help met die daaglikse vervoer van die teer en masjienerie.

Last modified: August 2, 2022

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *