Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit bevestig dat salarisse van munisipale werknemers vanoggend, Donderdag 26 November 2026, betaal is. Salarisse was oorspronklik betaalbaar op Woensdag 25 November 2026.
Die vertraging is hoofsaaklik veroorsaak deur die administratiewe en stelselvereistes verbonde aan die verwerking van vergoeding vir die nuwe Raad.
Op 17 November 2026 het die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake die 2026/27-bepaling van die maksimum salarisperke, toelaes en voordele van lede van munisipale rade (Staatskoerant No. 55749) gepubliseer. Die Departement se implementeringsomsendbrief (Omsendbrief No. 27 van 2026) het daarop gevolg.
Die bepaling tree vanaf 1 Julie 2026 in werking, en munisipaliteite moet dit volgens die voorgeskrewe prosedures implementeer. Dit sluit onder meer die volgende in:
- Uittredende raadslede moet pro rata vergoed word tot en met hul laaste dag in die amp.
- Nuutverkose raadslede moet op die betaalstaat en vir belastingdoeleindes geregistreer word voordat betalings aan hulle gemaak kan word.
- Beheermaatreëls moet ingestel word om te verseker dat uittredende en inkomende raadslede nooit vir dieselfde tydperk vergoed word nie.
- Die nuwe vergoedingsvlakke mag slegs binne die voorgeskrewe wetlike raamwerk toegepas word, aangesien enige betalings buite hierdie raamwerk as onreëlmatige uitgawes beskou kan word.
Aangesien raadslede en munisipale werknemers deur dieselfde betaalstaatstelsel vergoed word, moes hierdie veranderinge binne ‘n beperkte tydsbestek, ná die publikasie van die bepaling, vasgelê, nagegaan en goedgekeur word voordat die November-betaalstaat vrygestel kon word.
Die bykomende administratiewe en tegniese verwerkingsvereistes het gevolglik daartoe bygedra dat salarisse nie op die gewone betaaldatum betaal kon word nie.
Die Munisipaliteit erken die ongemak en finansiële druk wat die vertraging vir werknemers en hul gesinne kon meebring, veral waar debietorders en ander maandelikse finansiële verpligtinge daardeur geraak is.
Werknemers wie se banke boetes of koste gehef het, of wie se debietorders weens die vertraging teruggekaats is, word versoek om die Menslike Hulpbronne-kantoor te kontak vir ‘n bevestigingsbrief wat aan hul bank voorgelê kan word.
Die aangeleentheid is intussen opgelos en alle salarisse is ten volle betaal.
Die Munisipaliteit betreur die ongemak wat veroorsaak is en bedank sy werknemers vir hul geduld en begrip.
-einde-
Uitgereik deur: Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit: Kommunikasie
Last modified: November 26, 2026

