’n Opwindende nuwe hoofstuk het vandeesmaand vir die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit aangebreek toe splinternuwe diensvoertuie en masjinerie hul nuwe tuiste in die munisipaliteit gevind het.
Hierdie welkome toevoegings tot die munisipale vloot vorm deel van die voortdurende poging om dienslewering in al die dorpe van Nama Khoi verder te versterk. Onder die nuwe aankomelinge is twee splinternuwe bakkies wat aangewend sal word om operasionele spanne meer mobiel en doeltreffend te maak wanneer hulle op diensversoeke en instandhoudingswerk reageer.
Die voertuie sal ’n belangrike rol speel om daaglikse take vinniger en meer effektief uit te voer.
Benewens die bakkies het drie nuwe masjiene ook by die vloot aangesluit, waaronder ’n padskraper wat spesifiek aangewend sal word vir padonderhoud en die verbetering van grondpaaie in verskeie nedersettings. Hierdie toerusting sal help om infrastruktuur beter in stand te hou en reaksietye te verbeter wanneer herstelwerk benodig word.
- Die nuwe voertuie sal dienslewering in Nama Khoi verbeter.
- Die waarnemende Munisipale Bestuurder, Adv. Don Malan het besoek afgelê aan tegniese dienste waar hulle besig was om die nuwe masjien aan werk te sit.
- Superintendent by reiniging, Noni Joni voel bietjie om te spog met die nuwe masjiene.
- Die Burgemeester, Raadslid Rodney Kritzinger, en Speaker, Dr Gustav Bock tydens die oorhandiging van die splinternuwe voertuie.
- Superintendent Louis Harper in die water-afdeling by Tegniese Dienste is opgewonde oor die nuwe bakkie.
- Die Vlootbestuurder, Dylan Magerman glimlag breed.
- Die bakkies word ontvang vanaf die plaaslike Toyota.
- Leiers en senior amptenare van die Nama Khoi Munisipaliteit is verheug oor die nuwe vloot- en is entoesiasties vir verbeterde dienslewering.
Die uitbreiding van die vloot eindig egter nie hier nie. Twee dreinlorries en ’n vullislorrie vorm ook deel van die nuwe aankope en sal eersdaags hul verskyning maak. Sodra hierdie voertuie in diens gestel word, sal dit verdere ondersteuning bied aan noodsaaklike dienste soos dreinonderhoud en vullisverwydering.
Die toevoeging van hierdie voertuie en masjinerie is ’n belangrike belegging in die munisipaliteit se vermoë om gemeenskappe doeltreffend te bedien. Met beter toerusting tot hul beskikking, kan munisipale spanne hul werk meer doeltreffend verrig en voortgaan om die lewensgehalte van inwoners regoor die Nama Khoi-gebied te verbeter.
Last modified: March 9, 2026










