R5 miljoen skenking gee nuwe momentum aan padinstandhouding in Nama Khoi

June 10, 2025

Die strate van Springbok kry tans ’n broodnodige opkikker danksy ’n welkome skenking van R5 miljoen aan die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit – ’n betekenisvolle investering wat nie net die toestand van plaaslike paaie verbeter nie, maar ook die waarde van privaat-publieke vennootskappe in dienslewering onderstreep.

Die projek, wat tans momentum kry van ’n twee kilometer lange teerlaag op Voortrekkerweg – die hoofpad deur die middedorp van Springbok – is die eerste fase van ’n groter padherstelprogram wat ook na ander paaie sal uitbrei. Dié inisiatief kom op ’n kritieke tydstip nadat onlangse swaar reënval sigbare skade aan verskeie strate in die area aangerig het.

Sedert die inswering van die koalisieraad in 2021 het die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit ’n proaktiewe benadering gevolg deur strategiese vennootskappe met die privaat sektor aan te moedig. Hierdie jongste finansiële inspuiting van R5 miljoen is ’n direkte gevolg van daardie benadering en die vertroue wat vennote het in die munisipaliteit se visie en vermoë om infrastruktuurprojekte suksesvol te implementeer.

Die padnetwerk is die are van die plaaslike ekonomie – dit verbind gemeenskappe met werk, dienste, markte en mekaar. Deur hierdie projek herbevestig ons nie net ons verbintenis tot volhoubare dienslewering nie, maar wys ons ook dat ons ekonomiese groei en werkskepping aktief prioritiseer.

Met die eerste fase van die projek reeds aan die gang, sal inwoners van Springbok binnekort die resultate van hierdie beleggings eerstehands kan ervaar. Intussen werk die munisipaliteit voort aan verdere vennootskappe om dienslewering in al nege wyke van die Nama Khoi-area te versterk.

Hierdie R5 miljoen-skenking is dus meer as net ’n finansiële bydrae – dit is ’n bewys dat inklusiewe ontwikkeling en samewerking die pad vorentoe is.

 

Last modified: June 10, 2025

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *